Search
  • DiGi Publishers

Skrywers Reis


1. Begin klein en groei.

Bekende skrywers het meestal nie met die eerste boek bekend geword nie. Ook word nie al hul boeke wenners nie. Moenie jou eerste boek ‘n moeilike boek maak nie. Begin by iets maklik en waarvan jy hou om te skryf. Jy kan selfs ‘n paar kort verhale skryf en dit aan vriende of familie gee om te lees of op sosiale media plaas vir ander om te lees en te oordeel. Skryf in vir kompetisies, al staan jy nie regtig ‘n kans nie, dis ‘n goeie manier om te oefen. En wie weet, dalk verras jy jouself! Onthou, geen skrywer se werk is volmaak is. Vir een leser sal dit ‘n wenner wees en vir ‘n ander een ‘n totale ramp. Gelukkig verskil ons smaak en voorkeure. Dit verseker dat elkeen se werk ‘n kans kry om gelees te word.

2. Moet nooit dink dat jy alles weet nie.

Ook skrywers is nooit te oud om te leer nie. Elke boek is anders, met sy eie genre, karakters, plotte, gebeure en tonele. Skrywers kan nie oor en oor dieselfde goed gebruik in hul boeke nie. Hulle moet sorg vir variasies op die tema. Doen ‘n skryfkursus of woon ‘n slypskool by. Lees wat ander skrywers doen en aanbeveel. Oefen en nogmaals oefen. Skryf ‘n kort opstel oor ‘n onderwerp en kyk hoe jy keer op keer daarop kan verbeter. Hoe jy met woorde kan toor. En kyk wat gebeur as jy woorde verander. Oefen om iets beter te beskryf.

Leer hoe om te beplan en hoe die raamwerk van jou werk daaruit gaan sien. As jy dit op klein skaal kan oefen, sal dit makliker wees as jy ‘n groter werk aanpak.

3. Groei.

Nie net in jou werk nie, maar ook in jou uitkyk, ideale, drome en jouself. Moenie stagneer nie. Bly op hoogte van wat om jou gebeur in die skrywers- en leeswêreld. Leef jou drome uit. Groei emosioneel en geestelik. Dra jou boodskap uit aan ander in die vorm van jou boek. Kry inspirasie.

4. Stel realistiese doelwitte.

Struktureer dit deur ander se raad en na jou navorsing te kyk. As jy ‘n boek skryf en nog voltyds werk, beplan jou tye sodat jy kans kry om minstens een keer week te skryf.

5. Kry vir jou ‘n dag- of weekbeplanner.

Merk die tyd wat jy aan skryf wil spandeer duidelik daarin. Hou daarby.

6. Weet wat jy wil doen.

Wil jy net skryf vir die lekker en vir jouself of wil jou werk publiseer en dalk ‘n inkomste daarmee verdien? Jy het immers ure daaraan spandeer. Besluit en maak dan aanpassings.

7. Ken jouself.

Wat is jou sterk- en jou swakpunte? Hoe sal jy dit kan gebruik? Hoe sal jy bv. reageer as jou boek nie so goed doen as wat jy verwag het nie? Sal jy dit kan verwerk en aanvaar? Sal dit jou motiveer om harder te probeer en jou boek te verbeter tot dit ‘n wenner is?Of sal die jou motivering wees om nooit weer te probeer nie?

8. Kry vir jou ‘n mentor.

Gesels met ander skrywers. Deel hul kennis en vra vir advies. Daar is heelwat platforms waar skrywers hul menings gee. Dalk kan jy ‘n mentor kry wat vir die lekker jou manuskrip gratis sal redigeer en help. Ruil manuskripte uit met ‘n ander skrywer en redigeer dit. So leer jul albei uit mekaar se foute.

9. Bou ‘n netwerk.

Bou ‘n netwerk van ander mense wat jou passie vir skryf uitleef. Neem deel aan sulke groepe op sosiale media platforms. Woon kursusse by. Luister na praatjies oor skryf. Lees blogs of artikels daaroor. Volg mede- skrywers op sosiale netwerke en kyk wat hulle doen en sê. Neem deel aan gesprekke.

10. Doen navorsing.

Is e-boeke beter as gedrukte boeke? Hoekom? Watse voordele hou dit vir jou as skrywer in om jou boek as e-boek uit te gee? Watter uitgewers? Wie bied die beste prysse?

Doen ook navorsing vir jou boek. As jou boek byvoorbeel afspeel in die Karoo- weet jy genoeg hoe dit daar lyk? Watse diere en plante kom daar voor? Hoe is die mense wat daar woon? Wat doen hulle daar? Skep vir jou prentjie en maak seker van feite.

11. Kyk na jou finansies

Wat laat jou beursie jou toe om te doen? Wat is die beste opsie vir jou?

12. Hou ‘n joernaal aan.

Skryf probleme neer en soek oplossings daarvoor. Skryf jou eie gedagtes neer. Jy kan ook jou vordering daarin aanteken om te sien hoe jy vorder.

13. Belangrike oefening vir jou:

Neem ‘n kortverhaal en redigeer hom. Wees krities en kyk na al die ‘foute’. Doen ‘track changes’en oordeel jouself daarvolgens. Dis die beste manier om te oefen!Jy leer ongelooflik baie deur na ander se werk te kyk.

14.n Notaboek is ‘n moet vir ‘n skrywer.

Neem ‘n notaboek saam waar jy ookal gaan. Skryf neer wat jy wil onthou. “Steel” met jou oë en ore. Skryf sêgoed neer.

15. Wees kreatief.

Ook in jou skryfwerk.

16. Ontspan gereeld.

Elke mens het ontspanning nodig. En skryf kan nogal uitputtend raak. Dis kophou van al die gebeure, karakters en al die ander goed wat saamgegooi word om jou storie uit te beeld. As jy voel jou kop wil nie meer dink nie, neem ‘n ruskans, maak ‘n lekker koppie koffie of tee en gaan ontspan buite in die varslug.

17. Kyk na jou eie gesondheid, niemand anders gaan nie.

Skryf kan nogal op mens se senuwees werk. Soms kom jy dit nie eers

agter as jou maag op ‘n knop trek nie. Kyk dat jy gemaklik sit in die reg

regte posisie sodat jou spiere nie gestrem raak nie. Eet gereeld en

gesonde kos. Kyk na eie gesondheid – want wie gaan jou boek voltooi as

jy siek raak?

18. Probeer net jou bes, meer as dit kan jy nie!

As jy voel jy het jou beste gedoen, dan is dit al wat jy kan doen. Onthou net met boeke is dit bietjie anders: skrywers kan altyd verbeter. Iewers is daar iets wat anders gestel kon word of beter beskryf kon geword het. Daarom is redigering so ontsettend belangrik. Dis altyd goed om ‘n ander se mening te kry.

19. Wag geduldig.

Jou boek gaan nie oornag in ‘n wenner verander nie. Mense moet dit eers lees...en dit by die dosyne! Wees geduldig, en hou aan met skryf!

20. Maak skryf jou besigheid.

As jy geld daarmee wil verdien, bedryf dit dan soos ‘n besigheid. Doen beplanning. Werk ‘n besigheidsplan uit. Maar oppas om nie jou kuikens te tel voor hulle uitgebroei het nie. Jy beweeg in ‘n baie moeilike besigheidswêreld. Miljoene boeke word jaarliks wêreldwyd uitgegee. Lesers kan dus kies en keur. Om ‘n gesoute skrywer wat geld maak te word, vat tyd en geluk.

21. Glo aan jouself.

Jy is uniek- so ook jou werk. Daar kan nêrens in die wêreld nog so boek gepubliseer word nie. Wees trots op jouself en jou werk. Skryf is immers harde werk, al dink ander nie so nie.

22. Moenie ophou skryf nie.

Hou aan SKRYF! Al bereik jy nooit die topverkoper nie, hou aan en skryf en skryf. Hoe meer jy skryf hoe meer leer jy van die skrywerswêreld en wat lesers soek. Daarby brei jy jou skrywersvernuf uit.

23. Geniet jou skrywers reis...

Ontdek nuwe plekke, mense, wêrelde terwyl jy skryf. Geniet elke oomblik daarvan. Al weet jy nie waar jou verhaal gaan opeindig of wat langs jou skrywerspad gaan gebeur nie...sien dit as ‘n reis om jouself te ontdek.

Skryf en maak daardeur ‘n verskil aan ‘n ander se lewe. Tel moeisames op langs die pad en inspireer hulle met jou werk.

Plaas ‘n glimlag op iemand se gesig, al is die lewe hoe moeilik.

Bring emosies terug in jou lesers wanneer jou boek lees, want mense is gemaak vir emosies. Laat hulle lag en huil; vrees en ontspan; ontvlug van die werklikheid en vlug van vrees en angs.

Lekker skryf!

Lees ook ons artikel: Publish a Book




31 views

Navigation

Get Involved

Subscribe

Proudly Designed by MediaScope Copyright © 2019 DiGi Publishers